SA skoolseuns leer Russe ’n les
BEELD, Sport, Dec 06 2007
Adnaan Mohamed

Die toekoms van sewesrugby lyk rooskleurig nadat die @lantic-uitnodigingspan verlede Saterdag in Doebai die internasionale amateur-afdeling vir oorsese spanne oortuigend gewen het.

Dié span, wat hoofsaaklik uit skoolseuns bestaan, het ’n Russiese uitnodingingspan met 47-0 in die eindstryd kafgedraf.

Die voormalige Springbok-sewesspeler Jovan Bowles, wat die span aangevoer het, was die enigste senior speler. Die seuns het met senior spanne van Asië, Nieu-Seeland, Australië en Brittanje meegeding en al sewe hul wedstryde gewen.

Die skoliere het 326 punte opgestapel en net 17 afgestaan. Hulle het 41 drieë gedruk en net drie is teen hulle gedruk.

Danie Poolman van Paul Roos in Stellenbosch, Justin McKay van die Höerskool Excelsior in die Kaap, Gerrit van der Heever van Affies in Pretoria en Hoffman Maritz van Voortrekker in Bethlehem was van die groot uitblinkers.

Volgens die sportpromotor Willem Strauss het hy dié toergroep Doebai toe geneem om die spelers die nodige internasionale blootstelling te gee met die oog om dalk eendag vir die Blitsbokke te speel. Die spelers is uit die Suid-Afrikaanse skolereeks gekies en op 26 Januarie sal hulle aan ’n toernooi in Suid-Afrika deelneem waar al 14 provinsies betrek sal word.

“Ons is tevrede met die seuns se vertoning en sien die span as ’n voedingsbron vir Paul Treu se Springbok-sewesspan.

“Hier is beslis twee of drie spelers wat binnekort die Blitsbokke kan verteenwoordig,” het Strauss ná die eindstryd gesê.

Die afrigter van die span, Daryll Weir, sê ’n groep skoliere het met senior spanne meegeding. “Die oortuigende wyse waarop hulle met die hardebaarde afgereken het, was ongelooflik,” sê hy.

Die 19-jarige Brian Shabangu van die Hoërskool Glenwood in Durban sê die toernooi was ’n wonderlike ervaring.

“Dit was ’n voorreg om aan die toernooi te kon deelneem. Die belangrikste is dat ons met spelers van oral ter wêreld vriende gemaak het,” sê Shabangu.

 

 
Copyright © @lantic. All Rights Reserved.