Swellendam. – Die Springbok-sewesspan het met sy deelname hier aan die @lantic-sewestoernooi ’n paar ongeslypte diamante ontdek.
Die Blitsbokke wat tans hard besig is om voor te berei vir die Internasionale Rugbyraad (IRR) se volgende sewestoernooi wat op 28 en 29 Maart in Hongkong plaasvind, was Saterdag hier in die Suid-Kaap op hul stukke.
Volgens die afrigter van die Blitsbokke, Paul Treu, was die toernooi die ideale geleentheid om sewesrugby na een van die kleiner gemeenskappe in Suid-Afrika te neem. Boonop het Treu ook van dié geleentheid gebruik gemaak om die beskikbare jong talent van nader te beskou.
“By elke toernooi word daar een of twee belowende spelers geïdentifiseer wat aan die einde van die jaar deel van ’n uitsoekgroep uitmaak, wat aan ’n aparte toernooi by die sewestoernooi in Doebai deelneem,” het Treu gister gesê.
“Spelers soos Wilton Pietersen, Robert Ebersohn en Gerhard van den Heever wat almal nog 18 jaar oud is, het hul stempel afgedruk en van hulle kan selfs nog in die nasionale groep opgeneem word.”
Saterdag se toernooi was een van 16 toernooie wat landwyd plaasvind. Benewens die skolespanne het die Blitsbokke, die Shimlas en die WP-Instituut ook deelgeneem.
“Swellendam is my tuisdorp en dit was lekker om die sewesrugby na ’n klein dorpie te neem. Ons het sewe keer gespeel, net drie drieë afgestaan en gemiddeld agt drieë per wedstryd gedruk”.
Die Blitsbokke vertrek aanstaande Sondag na Hongkong. – Adnaan Mohamed.
- Shield: Kasselsvlei KHS – B 7 vs. George High 17
- Bowl:Albert Myburgh 22 vs. Kasselsvlei KHS – A 26
- Plate:Gerrit du Plessis 7 vs. Swellendam Sekondêr A 17
- Cup: Langgeberg Sekondêr 22 vs. Excelsior 24